Een van die vroegste inwoners wat hom permanent hier kom vestig het, was ene Pieter Jacobus de Wet.  Dit was in die jaar 1828.  Sy vestiging hier, sou dus die voorloper wees van die stigting van die dorp en dus ook van die onderwysinstansies

So gebeur dit dan ook dat die dorp Aliwal-Noord in 1849 op die 12de Mei deur Sir Harry Smith gestig word.

In 1850 word die eerste onderwyser aangestel teen ‘n salaries van R200 per jaar. Die skool was onder direkte toesig van die plaaslike munisipaliteit.  Nie lank nie, of die getal leerlinge het op 30 gestaan.

LSAN Geskiedenis

In 1877 kry Aliwal-Noord ‘n “Undenominational” skool.  Dit was ‘n skool wat volgens regeringsopdrag, los was van die godsdiens as rigtinggewer en ook los van enige skoolkommissie.  Namate die regeringsbeleid verander het, het hierdie onderwysrigting ook verbeter sodat dit ontwikkel het in wat ons Christelike Nasionale onderwysbeleid, tot en met die implementering van die nuwe grondwet in 1994.

In 1860 bedank die skoolhoof mnr. Postma en word mnr. R. MacGregor aangestel.

In Desember 1883 word mnr. MacGregor afgedank, omdat sy gesondheid volgens die komitee veel te wense oorgelaat het.  Hy beweer egter dat sy gesondheid, hoewel effens swak, nie sy werk beïnvloed het nie aangesien hy slegs 2 dae in daardie jaar afwesig was.  Na ‘n vergadering besluit die komitee om hom weer aan te stel, maar om sy salaris van R600, in vandag se geldeenheid per jaar te verminder na R450 per jaar.

Uit ‘n inspeksieverslag van 1884 blyk dit dat inspekteur Lewis, baie tevrede was met die skool se werksaamhede.

In 1884 amalgameer die Public School met die Collegiate School for girls van mej. Rittman.  Drie onderwysers word vir die nuwe skool aangestel.  In 1885 verklaar mnr. MacGregor hom bereid om aan te gaan as hoof van die nuwe geamalgameerde skool, maar na ‘n paar dae bedank hy sy pos as gevolg van swak gesondheid!  Hy word in dieselfde jaar deur mnr. H.P. Sidwell opgevolg .  Laasgenoemde stel voor dat seuns en meisies in dieselfde klas moet wees, maar hierdie voorstel is deur die komitee afgekeur.

In 1888 word Rev. A.L. Snell as skoolhoof aangestel, maar hy kom in botsing met die komitee omdat hy die kinders leer dat die aarde draai. Veral Ds. Marchant , N.G. leraar en voorsitter van die komitee was gedurig in konfrontasie met die “prinsipaal”.  In 1893 het hierdie vete tussen Rev. Snell en Ds. Marchant tot ‘n einde gekom, toe Rev. Snell op ‘n partytyjie na die lede van die komitee as “esels” verwys het.

Ds. Marchant het gesorg dat Rev. Snell afgedank word en hy kon aan sy komitee rapporteer “ Nu draait die wêreld niet meer”.

Na Rev. Snell se afdanking het ‘n sekere meneer Grant as skoolhoof waargeneem tot in 1894 toe Reginald J. Johnson aangestel is.  In 1895 word Rev. Snell deur die komitee tot vise-hoof benoem. (Ds. Marchant was nie teenwoordig nie, of glad nie lid van die komitee op daardie stadium nie. Dr. Muir, S.G.O. het egter 3 keer geweier om hierdie aanstelling te bekragtig.  Die komitee het egter na die koloniale sekretaris geappelleer, dog ook sonder sukses.

In 1896 word mnr. Johnson en sy hele personeel afgedank en in 1897 word mnr. Nielson die skoolhoof.  In die personeel is toe aangestel mnr. E. van der Horst, vader van mnr. Alex van der Horst, die eerste Laerskoolhoof.

Die skool op Aliwal-Noord was ook ‘n “Public School.”  Dit was ‘n skool wat staatshulp ontvang het.

Die leerlingtal het van jaar tot jar toegeneem.  In 1896 hervat die skool die nuwe jaar met 165 leerlinge.

Tydens die Tweede Vryheidsoorlog word die skool in Julie 1900 ontruim en as hospital vir die Engelse gebruik teen ‘n huur van R60 per maand.  Die Oranjesaal en Engelse Kerksale het toe as “skool” gedien.

Mnr. Nielson word later as hoof, deur mnr. Grant opgevolg en op sy beurt word hy in 1907 deur mnr. J.J.C. Carson opgevolg .

Intussen is ‘n skoolkomitee verkies wat hom beywer vir ‘n skool wat hoër onderrig sou gee (st. 7, 8, 9, 10).  Op 28 Januarie 1899 word hierdie skool dan ook met 30 leerlinge in gebruik geneem deur die S.G.O., Dr. Muir.  Dit was slegs ‘n gedeelte wat by die ou Laerskool aangebou is.

Aliwal-Noord het ook ‘n “Poor School” gehad.  Hierdie skool is slegs vir die arm kinders daargestel.  Die onderrig was dan ook gratis aan hulle gegee.  Hierdie skool is egter in 1916 gesluit en die leerlinge is in die Public School opgeneem.  In 1902 was mnr. Osler, vader van Bennie en Stanley Osler (springbokrugbyspelers) sekretaris van die skool se komitee.

In 1920 het die volgende verwikkelinge plaasgevind terwyl die prinsipaal weens “influenza en mental strain” met 5 maande verlof was.  Die getalle het so toegeneem dat besluit is op die skeiding van die hoër-en laerskole.  In dieselfde jaar word skoolgelde ook afgeskaf.

In 1924 word die nuwe Hoërskool in gebruik geneem en mnr. Alex van der Horst word die eerste Laerskoolhoof.  (Elders verskyn ‘n volledige vlys van Skoolhoofde.)


DIE TAALSTRYD:

In Julie 1822 vaardig Lord Charles Somerset sy taal proklamasie uit.  Hiervolgens sou Engels vanaf 1 Januarie 1827 die enigste voertaal wees in geregshowe en ander regeringskantore.  Skole word hierby ingesluit.

Plaaslik is die stryd vir Hollands as taalmedium in die skool deur o.a. N.E. Smuts en S. Bekker gevoer.  Die verteeenwoordigers van die Munisipaliteit en genomineerdes (outsiders) was hulle teenstanders wat vir die behoud van Engels geveg het.

Dit sou in 1920 wees dat die inspekteur, mnr. Kreft, opdrag gee dat Afrikaans tot en met standard 3 ingevoer moet word.


SKOOLHOOFDE:

1877     -           1880     Mnr. Postma

1881     -           1885     Mnr. R. MacGregor

1866     -           1888     Mnr. H.B. Sidwell

1889     -           1893     Rev. A.L. Snell

1893     -           1894     Mnr. Grant

1895     -           1896     Mnr. R.J. Johnson

1897     -           1906     Mnr. Neilson

1907     -           1923     Mnr. J.J.G. Carson

1924     -           1929     Mnr. A. van der Horst

1929     -           1932     Mnr. D.B. van Rensburg

1933     -           1959     Mnr. C.J. Olivier

1960     -           1967     Mnr. W.A.H. van der Merwe

1968     -           1972     Mnr. W.C. van Zyl

1972     -           1975     Mnr. C.B. Cornelissen

1975     -           1984     Mnr. F.H. Viljoen

1985     -           1988     Mnr. C.F. Brink

1989     -           1992     Mr A. Greybe

1993     -           1996     Mr W. Stemmet

1997     -           Mr G.C. Engelbrecht


SPAARKLUB:

Die spaarklub is in 1925 gestig.  Hierdie klub het ‘n baie trotse rekord soos blyk uit die volgende.

Die de Vos Malan Wisseltrofee is eenkeer gewen en die Mickey Snell Wisseltrofee nie minder as sewe keer nie.  In 1977/78 word die Administrateursbeker (Vrystaatstreek) aan die klub toegeken.

Weens die veelvuldige administratiewe pligte wat die organisasie van die spaarklub meegebring het, is daar 1984 besluit om hierdie deel van die skool se bedrywighede te staak.


VERVOER:

Op 24 Julie 1964 word daar op ‘n spesiale skoolkomitee-vergadering besluit om die skool se eerste skoolbus aan te skaf.  Hierdie bus is teen ‘n bedrag van R4270.00 aangekoop.  In 1974 word die bus ingeruil vir ‘n bedrag van R2500.00 en ‘n nuwe Mercedes Benz bus word teen ‘n bedrag van R 14 000.00 aangekoop.


SPORT:

In 1937 word daar vir die eerste keer ‘n begin gemaak met die afrigting van hokkie.  Die afrigters sou ‘n ene mev. MaDonald en Astelle van Zyl wees.

1944 word die kleurspanne (atletiek), vervang met twee ander “huise”, vernoem na vorige superintendent-generaals van onderwys nl.  Die Botha-Muir en die Murray-Viljoen Huis.  Hierdie spanne is egter later weer met kleurspanne vervang.


Heelwat oud-leerlinge het na matriek nasionale kleure en provinsiale kleure verwerf:

Op nasionale vlak het die volgende oud-leerlinge presteer:

RUGBY:

‍    •    Lionel Cronje -SA 0/21

‍    •    Nico Malan - 7’s Springbok

‍    •    Leon Vogel - Springbok

‍    •    Frans Steyn - Springbok

‍    •    

ATLETIEK:

L.J van Zyl


JAARBLAD:

Die eerste jaarblad na die skeiding het in 1961 onder leiding van die hoof, mnr. W.A.H. van der Merwe, verskyn.


SKOOLLIED:

Op 29 Maart 1962 is die eerste skoollied in gebruik geneem.  Dit is geskryf en gekomponeer deur mnr. C. Groenewald wat op daardie stadium aan die skool verbonde was.


DIE VOORTREKKERS:

Die Kommando op Aliwal-Noord is in 1934 gestig.  Hoewel hierdie organisasie los van die skool staan, kan daar tog met dankbaarheid teruggedink word aan veral een onderwyser en sy vrou wat vir baie jare (ongeveer 27 jaar) die vereniging se saak behartig het nl.  mnr. en mev. Lessing ( beter bekend as oom Buks en tant Elize.)


DIE SKOLIERPATROLLIE:

Hierdie organisasie het nog altyd ‘n belangrike bydrae tot ons skoliere se veilige tuiskoms gelwer.  Daar was tye dat die organisasie heeltemal doodgeloop het, maar telkens, gelukkig is die belang daarvan opnuut besef.  Huidiglik funksioneer dit tans op die hoek van Cathcart-, Bensonstraat en Levystraat.


LEUSE:

Die leuse “Audentior Ito” is vir die eerste keer skriftelik in die jaarblad 1920 opgeteken en verduidelik.  “Tu ne cede malis; sed contra, audentior ito, quam te fortuna sinet” Moenie moed opgee nie, maar gaan liewers dapperder vorentoe in weerwil van u rampspoed.

Vir ‘n laerskoolleerling het die leuse in Latyn geen of weinig waarde en dus is besluit om die woorde Dapper Vorentoe uit die Afrikaanse betekenis te neem en as leuse te aanvaar.  Die Engelse vertaling daarvan is Boldly Onwards.  Die leuse verskyn in albei tale op die huidige wapen.


SKOOLKLEURE:

Die skoolkleure word as blou en rooi aangegee – in 1960 as donkerblou en rooi en sedert 1961 as donkerblou en donkerrooi aangegee.


DIE WAPEN:

Die oorpronklike wapen is in 1920 ontwerp deur middel van ‘n kompetisie wat onder die leerlinge gehou is.  Die finale ontwerp wat ‘n rooi buffelkop op ‘n geel agtergrond voorstel, is gebaseer op die idée van ‘n st. 7 leerling, Addie Chinn.  Volgens haar was die simboliek as volg:

Die buffel is ‘n huldeblyk aan die Hollandse Voortrekkers wat Aliwal-Noord oorspronklik Buffelsvlei genoem het.  Deur die jare het die bewoording van die wapen telkemale verander.  Die huidige wapen het nog steeds die buffel as uitstaande kenmerk maar bokant die buffel se kop verskyn daar 2 ronde kringe met onegalige horisontale lyne daardeur.  Dit simboliseer die fontein van kennis.  In die middel van hierdie twee kringe is daar twee gekruisde penvere wat geleerdheid simboliseer.


GEBOUE:

Volgens ‘n jaarverslag van 1940 maak die hoof melding van planne vir ‘n nuwe skoolgebou of die herbou van ‘n gedeelte wat reeds in 1877 opgerig is.  As gevolg van die oorlog en ekonomiese druk is daardie planne nie uitgevoer nie.

Eers 27 jaar later is daar uitvoering gegee aan hierdie lank gekoesterde ideal.  Op 17 Maart 1967 word die hoeksteen gelê deur mnr. F.D. Conradie, L.U.K.  Op 23 Augustus 1968 is daar in die nuwe skool ingetrek en op Vrydag 27 September 1968 is die nuwe skool amptelik in gebruik geneem deur Dr. N. Malan wat op daardie stadium die administrateur van Kaapland was.


KOSHUISE:

Vanaf 1984 beskik die skole elk oor hul eie koshuis.


BELANGRIKE PERSONE:

Heelwat oud-skoliere het hoë poste in die samelewing beklee of beklee dit tans nog:

‍    •    Danie Visser                               -  Hoof staatsprokureur

‍    •    Jack Patton                                - Redakteur, The Star

‍    •    John Sutherland                         - Redakteur, Saturday Evening Post

‍    •    Elsabé Kemp(neé de Wet)         -  Burgemeesteres van Oos-Londen

‍    •    Bernard Izikewitz                       - Lid van ‘n span Suid-Afrikaners na Antartika.

‍    •    Lynch-Broers:    John Patrick      -  Direkteur Departement Statistiek 1986

‍                                    Carl Patrick       - Asst. Direkteur Nasionale Musem Bfn.

‍                                    Steven Patrick   -  Slaag MSC met lof – Navorsing Universiteit van Natal.

‍ 

PRESTASIES VAN ONDERWYSERS:

‍    •    C.J. Olivier - Oud-skoolhoof / twee agtereenvolgende jare Hoofbestuurslid van die SAOU

‍    •    J. Roos - N.O.K. Rugby

‍    •    R. v.d. Vyfer - N.O.D Rugby

‍    •    B. Rens - N.O.K Rugby springbokproewe.  Lid van S.A. Plattelandspan

‍    •    D.H. Visser - Departementshoof vanaf 1982 tot 1984 Springbokproewe Boland,  Noordwes Kaapland, S.A. Platteland

OK

This website makes use of cookies. Please see our privacy policy for details.